top of page

Sungazer Pelgrimstog 15-27 Junie 2018 (Deel Een)

- Christia Muis


Pelgrims:

Volroete: Marinda, Freda, Alet, Dina en Christia

Opsie 1: Alta, Jeanette, Gerda, Gerda, Coleen, Retha en Irene

Opsie 2: Hanli, Adri, Wilma, Bets, Marilla en Riana

 


Vrydag 15 Junie kom 12 pelgrims van heinde en verre by Paul Roux bymekaar. Dunlin B&B is waar Renee ons kom “brief” oor wat ons kan verwag op die Sungazer en waar moet ons vir wat oppas, ens. Hier het ons lekker kookkos aandete gekry en gekuier in ń gesellige huis. Meeste van ons het saam die Tankwa Camino gestap in 2016 en kon weer lekker saam gesels en opvang waar ons mekaar laas gesien het. Almal is vroeg bed toe want dis vroeg opstaan môre.



Saterdag 16de is almal op en aan die gang. Ons nuttig ń heerlike ontbyt en die gemoedere loop hoog van opgewondenheid en effe vrees vir die "unknown". Die koue is hier en almal het mussies op. Groep fotos word geneem voor die groep saam uit Paul Roux uit stap. Gou gou split die groep op in vriendinne en fiksheidgraad groepe. Ons vinnige hasie groepe is Freda en Gerda saam en Retha en Irene saam. Ons middel groepe was Alta, Jeanette en Gerda saam en Alet, Dina en Coleen saam. En natuurlik die skilpaaie (sweepers) en agterosse kom ook in die kraal, Christia en Marinda.



Mooi Vrystaatse vlaktes en berge. Plaashekke. Uniondale groet ons met ń groot dinosaur by die hek. Wat ń verrassing wag op ons na 15km se stap. Luukse kamer en vriendelike personeel. Plaasdiere oral wat ons groet. Riana bederf ons met spring rolls en samoesas. Almal doen hul eie ding en ontspan die middag in hul privaatkamers. Kaggel brand in die sit/eetkamer. Pelgrims kuier lekker tot ons moet aansit vir ń 4-gang aandete. Heerlik maar te veel geëet. Ons kuier nog so bietjie tot almal tot stilte kom en gaan lê.


Sondag 17de is net 11km so ons het nie vroeg begin en ook eers aangesit vir heerlike warm ontbyt. Riana gaan wys ons die dinosaur voetprints op die reuse rots. Van hier stap almal weer in hul gister groepies. Verby mielielande en nog hekke na Holhoek. Hier slaap ons in gewone stappershutte verblyf met stapelbedjies. Ons is vroeg hier so Alet, Dina en Coleen sien kans vir die steil "scary" lere op die staproete. Ons ander sit soos dassies in ń ry op die stoep en eet chips. Mooi sonsondergang groet die dag en Jeanette en Alta steek die vuur aan vir die vleis wat moet gaar. Vanaand moet ons self kosmaak maar hier is darem 2 lekker slaaie. Die kole is koud en Gerda braai die tjops in panne en maak goulash van die sosatie vleis. Nog hout maak vlamme vir die wors wat nou ge"barbeque" word. Almal eet lekker en die hasies speel kaart in die kombuis en die ander al bed toe want môre moet ons vroeg weg.



Maandag 18de is ons langste dag van 27km en almal vroeg op en vat die pad uit na Slabberts. Ek en Marinda stap 1ste uit maar word gou gou verby gevat deur die hasie groepe. Alta hulle join ons vir piekniek langs die pad en ons bly so naby aan mekaar heelpad. Alet hul is vandag agter maar ons hou hulle in oog. Die voete raak nou moeg en ons slaap so rukkie langs die pad. Ek en M maak toe klaar saam Alet hulle by Slabberts gemeenskapsaal. Vanaand is ons almal saam in een groot saal. Dankie Gerda en Freda dat julle die lekker matrasse vir my en Marinda gegee het. Baie gesellig so saam en groot sonkamer met genoeg stoele. Die stort is lekker warm en almal is vroeg skoon en warm want hier gaan ons koud kry. Gelukkig is hier 2 gasverwarmers en Lillie en haar dogter bring vir ons lekker bobotie en rys en ek ń veggie bake met slaai en brood. Die geselskap vra dat Marinda alles vertel van haar “Boer soek ń vrou” ondervinding. Daar word lekker gelag en gekuier.



Dinsdag 19de is almal op en die water het gevries van die koue so dit sukkel maar. Lillie het kospakkies gemaak vir die pad en so is ons uit die warm saal in die yskoue uit. Vandag is daar meer verkeer op die pad en ons moet bontstaan en koes vir die gejaag. Ek en M piekniek op ń groot bloekom stomp en geniet die Vrystaatse berge om ons. Ons vang vir Alet op en neem lekker snaakse fotos by die sign borde. Ons vang ook vir Alta hulle op en neem fotos met Tepelkop in die agtergrond. Nou is dit opdraend na die volgende oornagplek. 21km het ge-eindig by wow wow vir Willowdene. Die hasies en Alta hulle is al in die een huis en ek en M saam met Alet hul in die groot huis. Ek en Alet yoga bietjie en wasgoed word gewas en almal kuier later lekker saam voor aandete. Grooooooot bak lasagna en die dames het lekker mengelslaai gemaak. Ek het macaroni en kaas gekry. Die rondetafel word die kaartspeel en wyndrink geselligheid. Van ons maak nou al padkos vir môre. Dankie Dina vir ons huis se ontbytbroodjies.



Woensdag 20ste en net 24km wat voorlê. Dankie Dina vir die koffie in die bed. Vandag vier ons Alet se 70ste verjaarsdag. Ons gaan sing vir haar en gee ń geskenkpakkie. Dankie Marinda vir al jou reëlings om die dag vir Alet spesiaal te maak en almal se geld bydrae vir die geskenkpakkie. Ballonne versier die kombuis....ń hoogtepunt verander sommer gou in ń laagtepunt toe Gerda, Retha en Irene laat weet hul gaan stap om betyds saam shuttle ou ń lift te kan kry na PR. Hulle wil huistoe. Ons ander sing weer vir Alet en speel Simey se “lekker verjaar” liedjie. Saam stap ons ander 9 die lang plaaspad uit en Freda het ń nuwe hasie om die pad met haar te stap. Dina en Freda is vooruit en Coleen kort op hul hakke. Ons ander 6 kom ook aan. Ou kar fotos word geneem...diep gesprekke word gepraat...ons kry die trein by die spoor...koppie alleen...en nou die steil opdraend na die pragtige Uitzicht lodge met die mooiste berg agtergrond. Magda het lekker muffins gemaak en koek gebak vir Alet se verjaarsdag. Ons mis ons ander 3 pelgrims maar ons geniet die laaste aand saam die ander 4 wat ons môre oggend gaan verlaat...ons gaan hulle ook mis. Coleen was stil, maar haar rustigheid in die groep was baie aangenaam. Freda is die tafeltennis kampioen en na dit kuier almal by die kroeg. Aandete is lekker groente en slaai en heeeeerlike chock mouse poeding.....en nou word daar ge“toast” op Alet se 70ste. Ek word ge“groepsdruk" om ook ń doppie te sluk en toe sommer ook wyn. En so dink almal aan nog goed waarop ons moet drink. Ons het so lekker gelag. Die aand raak laat en gesellig.

134 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page