Paul Roux-Fouriesburg, Noord-Oos Vrystaat
- Nomades Voetslaanklub
Johan Celliers, Wilna Moolman, Fritz van Deventer; Daphne du Preez, Erika Barnard, Marius Stander en Amelda Basson begin die stap saam.
Renee en Maggie ontvang ons Sondagmiddag by die ‘Pink Tricycle' net langs die Rosenhof Gastehuis waar ons Sondagaand sal tuisgaan, nadat ons agtergekom het Paul Roux (Oos-Vrystaat) is groter as een straat en dat jy kan wel 'n plek daar kan soek. Gerna en Alida, twee dames ook van Pretoria afkomstig, stap ook saam, maar bly in die Dunlin Gastehuis daar naby.
By Rosenhof Gastehuis is Hermien ons sjef en gasvrou. ‘n Heerlike ete van beesstert, tjops, rys en ‘n groente word voorgesit. Wilna bring vonkelwyn vir die drie verjaarsdagmaatjies in die groep en 'n 48ste huweliksherdenking wat gevier word. Marius bring 'n koek saam. Rosenhof Gastehuis is ‘n ou huis met krakerige houtvloere, hoë plafonne, massas skilderye, oudhede, uitstallings met alles wat ouer as ons is, 'n kroeg vol dierekoppe en geroeste artefakte oral buite. In netjiese kamers word ons bederf met ‘n sjokolade, handdoek en sepie op die bed. Vyf van ons slaap in die huis en twee manne in van die kamers agter die huis.
Maandag begin ons die sowat 14km stap stap nadat ons finaal moes besluit wat dra ons saam en wat bly in die motors wat ons hier los tot volgende Saterdag. Ons stap deur die Paul Roux-dorpie, oor die nasionale pad en dan die grondpad waar ons nie te veel verkeer teëkom nie. Ons sien die mooiste kosmosse langs die pad en so stap ons al nader aan die koppies en berge – dis net landerye, beeste, huisies en gehuggies, vergesigte en jou gedagtes. Op die draaipunte is telkens die Sungazertjie wie se neus die rigting aandui. Ons stop by ‘n groot stuk padwerkerstoerusting en gebruik dit as sitplek en koelte. Dan die laaste entjie se stap tot by Uniondale Wildsplaas se hek, verby die dinosourus se skelet-model en die besoekersentrum tot by die lodge waar Riana ons ontvang. Ons geniet die luuksheid van die plek en sit met ons voete in die swembad en kuier in die kroegie. Aandete word bedien. Ons geniet 'n heerlike voorgereg met ‘n deegbasis, brie en beet bo-op en kerrieboontjies as bykos. Broodjies met 'n basiliekruidpesto is ook op die tafel. Die hoofdis is gebakte hoenderdye (cacciatore chicken), met gebakte aartappel en groentes in 'n sousie. Poeding is 'n paasbolletjie met vla. Die nyalas wei sommer so deur die kamp en die kalkoen, pou en hoenders is ook oral. Ons sien ook emoes en hasies. Die vier dames van ons groep slaap in die huis met elkeen 'n en-suite badkamer. Die drie manne kry elkeen hul eie chalet buite met badkamer en kombuisie. Elkeen kry ook weer sy verwelkomingsjokoladetjies op die bed.
Dinsdagoggend om 8:00 ontbyt geniet ons ontbyt, net te veel met spek, eiers, worsies, skelvis, brood en konfyte en sagte gestoofde vrugte. Daarna gaan ons na die dinosourus-spoor. Ons begin aanvanklik stap en kry toe ‘n geleentheid op ‘n vragmotor wat op die plaas werk vir sowat 2km - groot pret. Ons neem bietjie foto’s daar nadat die spore vir ons gewys is. Daar is so vier voetspore teen 'n groot sandsteenklip onder ‘n afdak. Ons stap tot by die hoofgrondpad en hou verder aan. Ons stap die dag sowat 11km tot by Holhoek se staproete se basiskamp. Ons sien ook kalkoenibisse langs die pad. Die skape en lama wat hul oppas, begroet ons by die Holhoek-kamp met sy dam voor die groot kuierarea. Die perde deel ook die grasperke met ons. Die aand en nag is die voëltjies wat nes toe keer en later die paddas ons agtergrondmusiek. Tjops, 'n worsie en sosatie elk, wat ons self moet braai, 'n aartappelslaai en ook pastaslaai met kaasbroodjies, tamaties, uie en kaas word voorsien. Selfs wyn en koeldrank word verskaf! Ons slaap heerlik warm in ons twee sandsteenhuisies wat elk ses stapelbeddens het. Hier moes ons net ons eie slaapsak hê. Vir ontbyt kry elkeen 'n beskuit, ham-en-kaas jaffel en ‘n Bar One en piesang vir padkos wat Riana ook vir ons gemaak en saamgestuur en selfs hier afgelewer het. Die groot 'Sam’s Place' – dubbelverdieping stapperslokaal is ook daar by ons.
Woensdagoggend begin ons om 7:00 by Holhoek stap. Dit is die lang dag vandag en ek glo elkeen begin die dag met 'n bietjie van 'n vrees van “Gaan ek dit maak, gaan my voete dit maak?” So elke uur stop ons ‘n bietjie vir ‘n paar minute en drink en eet iets en ook as ons 'n koeltetjie langs die pad kry, wat maar skaars is. Ons sien baie soja en mielies langs die pad en nogal vreemd heelwat enkel perskebome so direk langs die pad, wat wie weet waar vandaan kom. By die T-aansluiting waar die S194 en S189 bymekaar kom by die plaas 'Oorspong' vind ons 'n boom en neem 'n broodnodige middageteen rus-sessie. En dan oral die vergesigte van die berge en koppies en stroompies rondom ons, die nimmer-eindigende grondpad voor ons, verby Verzierskerf-berg en -plaas en vele ander. Skape ook langs die pad gesien. Vandag het ons sowat 27.7 km gestap. Net so tussen 1:00 en 2:00 het ons bietjie reën op die pad gekry.
So net na 14:00 kom ons by die reuse Eendragsaal in Slabberts aan ons net agter die silo’s oornag. Slabberts is bitter klein. Lilly, woonagtig op 'n plaas daar naby, is ons gasvrou en sit vir ons 'n hoenderpastagereg met ertjie/spek en kaas-slaai en broodjies voor. Tee, koffie en beskuit is ook al van vroegmiddag beskikbaar en 'n ook eerlikheidselfhelpwinkel waar jy koeldrankies, ensovoorts kan neem en dan net jou geldjie in 'n houer sit - R5 vir n 300ml koeldrank en R1 vir n mini Bar One. Hier slaap ons op palette of sommige kry beddens in die groot saal. Party se matrassies is dikker as ander. Elkeen moet in sy eie slaapsak slaap.
Blase word behandel, sommige met naald en gare, ander met pleister. Sommige het meer blase as ander. Die een les van vandag is dat plakkies nie werk nie, ‘n stewel met 'n goeie sool werk net beter op die langpad.
Comments