Paul Roux-Fouriesburg, Noord-Oos Vrystaat
- Nomades Voetslaanklub
Dit reën die heel nag aanhoudend saggies. Donderdagoggend toe ons opstaan, reën dit steeds. Dit is koud en nat buite. Ons het gelukkig heerlik warm in die saal geslaap. Die buitetemperatuur is rondom 10 grade. Die meeste van ons eet ons ontbytpakkies wat elk twee roosterbroodjies met ham en kaas op het, worsies en twee gekookte eiers en jogurt. Gerna en Alida reël al die vorige aand met Renee dat hulle ons kom oplaai en die sowat 20km na Willowdene ry. Al hou dit op met reën sal die pad nat en modder wees. Later reël Gerna, Alida en Amelda met Renee om hulle die oggend te kom haal en terug na Paul Roux te neem, vanwaar hul terugkeer na Pretoria. Hul sien nie meer kans nie. Die oorblywende ses van ons ry so 8:00 saam met Anmari na Willowdene. Ons ry verby die bordjie na die Tepelkop-staproete (wat blykbaar nou gesluit is), asook die 'Sporekrans’- staproetepadpredikant. Dit is net modder oral. Nie onmoontlik om te sou kon loop nie, maar heeldag in die rëen en modder sou minder aangenaam wees. So 9:00 is ons by die Willowdene Gasteplaas. Die naam van die plaas is eintlik Tepelfontein, wat aan die Tepelkopplaas grens. Ons sien ook die kenmerkende koppie. Willowdene is 'n plaasopstal en twee ander geboue in die middel van niks - heerlik. Ons verwonder ons aan die drie gebakte bakke macaroni-en-kaas, komkommer, tamatie, fetakaas, blare, ensovoorts, drie botteltjies konfyt, ses verskillende soorte brode, al die teeen koffiegerei, en 'n hele waatlemoen as jy nog honger is. Vir ontbyt word ons vergas op 36 eiers, kaas, ham en twee bokse sap. Dan as jy nog honger is, is die eerlikheidswinkeltjie daar met wyne, koeldranke, sjokolade en aartappelskyfies.
Middagete eet ons sommer twee bakke pasta as middagete op. Ons het aanvanklik nie water gehad nie, maar dit is later herstel. Die gasvryheid, die mensheid en die omgee en hulpvaardigheid van die mense hier is net opmerklik, almal help, sonder kla, kuier en is net mens, geen voorgee nie.
Die kaggel word gestook. Ons kuier die middag en aand heerlik rondom die snoesigheid van die kaggelvuur. Erika maak vir ons ‘n “moerbeislaai” met die komkommer, tamatie, feta, piesang en slaaisous. Tydskrifte word gelees, blokraaisels word ingevul, ons eet en kuier. Die derde bak macaroni word in die oond warm gemaak en nog ‘n bottel wyn word oopgemaak. So teen 20:00 se koers hou die reën op. Daar word gereël dat Anmari se skoonma ons groep die volgende dag so 10:00 na Uitzicht neem.
Vrydagoggend maak ek vir my ‘n vinnige eier-en-kaas roosterbroodjie. Die son steek kop uit en dit reën nie. Ek en Johan begin so 7:00 te stap. Fritz is kort op ons hakke. Na so twintig minute se stap bel Renee en sê die een laagwaterbrug is oorstroom en nie ons of die voertuie sal nie kan deurkom nie. Ons draai met gemengde gevoelens om. Ons het so 'n kilometer uit en weer terug geloop. Die weer is nou perfek vir stap, dit reën nie, die paaie is bietjie modderig, maar ons kan nie stap nie. Later kom Elizabeth, Anmari se skoonma, ons oplaai en ons kon deur die laagwaterbrug met die 4x4 deurkom en sy laai ons by Uitzight Lodge af. Ons het dus nie die beplande sowat 24km gestap nie. Ons skrop nes by die netjiese lodge met sy veraf uitsigte op die Maluti’s en in die verte Fouriesburg se buitewyke. Marius, Johan, Wilna en Fritz stap terug na die afdraaipad na die lodge en sien die eenboomkoppie en ander mooi koppies en kranse rondom ons. Ons draai om en stap terug na die lodge, sowat 7km uit en tuis. Erika en Daphne stap so 4km op die lodge se terrein rond. Ons nuttig middagete met ons eie kos en beskuit en koekies uit die kombuis en kuier saam. Die son skyn steeds. Later die middag stap Johan, Marius en Daphne die koppie agter die lodge uit waar ons die interessantste wit blesbokke en ook waterbokke sien. Vir aandete bring Magda vir ons wildebeespastei, beetslaai, 'n aartappeldis. Na die maal word die binnebraai gestook en tot so 21:00 gekuier waarna elkeen bed toe keer. Na 'n week van baie ervarings en belewenisse is daar baie om oor te dink. Vir ontbyt die volgende oggend is daar maalvleisjaffels, brood, kaas, eiers, konfyt en kitspappe.
Saterdagoggend kom die bussie van Skemervreug Tehuis van Paul Roux ons haal. Ons beleef 'n interessante rit van sowat 100km terug met die teerpad via Bethlehem. Min van ons het besef hier word ook in die area met so baie appels geboer, naas die sojabone, suikerboontjies, mielies, sonneblom en beeste wat ons die meeste gesien het. Jy en jou gedagtes en die kuier en skouerskuur met die medepelgrim is net heeltemal anders as enige ander stap. Dit is wat die week besonders maak. Die wonder en die selfgesprekke êrens op die roete, oor hoekom mens nou so 'n stap sal aanpak, die seer voete en lywe, die uitgestrekte uitsigte oor die landerye en die velde en berge... Die verskeidenheid en onverwagte wat ons sien en beleef langs die pad, waar en hoe ons oral bly en wat ons elke aand en oggend te ete kry, is alles deel van die uitsonderlike ervaring. Eendag kom ons terug om die res van die Sungazer te voltooi. Sien ook aangehegte 'Fotoverhaalblad' met bietjie meer oor die verblyf en ons uitstekende etes elke dag. Ons dra elke dag wat ons gestap het ons eie sakke, soms is sekere items soos slaapsakke wel vir ons aangery. Ons het dus amptelik die 98km, 5-dag, rugsakstap gedoen, maar net 3 dae vol gestap en het bietjie verneuk met die slaapsakke. Ons het sowat 60km werklik gestap oor 3½ dae.
Kontak vir Renee (082 304 7006) om ook die ervaring mee te maak.
Verskeie afstande is beskikbaar.
Comments